top of page
Search

My Grot

  • Oct 6, 2023
  • 3 min read

Updated: Oct 26, 2023


Dis waar ek myself gesien het. In ‘n donker grot met net genoeg lig om aan te hou hoop. Ek het op die grond gelê, my bene opgetrek teen my bors, soos ‘n mens wie se wind hard uit haar geskop is. Ek wou nie opstaan nie. Ek wou nie dink nie. Ek wou net lê en huil en probeer vergeet. Party dae was dit my oudste wat my uit die grot kom haal het. Sy het met haar twee boksterte en groot glimlag by die gat ingeloer en geroep: Mamma, wil jy speel..? Ek wou nie. Nie eers ‘n bietjie nie. Maar as daar ‘n liefde bestaan wat grootter as jou seerste seer is, is dit die liefde vir jou kinders. So ek het gespeel. Ander dae was dit my jongste. Toé was sy nog net die lewetjie binne my. Ek sou my maag vryf wanneer die seer my bors toedruk en bid dat God my help asemhaal sodat sy net okei sal wees. Dit was my grot. My grot was donker en koud en eensaam. Soms was dit hard en ongemaklik en aaklig. Okei, nie soms nie, meeste van die tyd. Maar dit was myne. Hier kon ek al my pyn uitstal en bekyk en vervloek en nie bekommerd wees iemand gaan dit sien nie. Hier was ek veilig. Hier kon niemand my sien nie. Hier hoef niemand te weet nie. Hier het net God geweet. Hy het genoeg geweet om ‘n gat in my grot te maak. ‘n Gat net groot genoeg om my te laat onthou, daar is meer as net dié. Hy het my daar laat lê solank as wat ek dit gekies het. Hy sal jou nie kom uithaal as jy Hom nie vra nie. Jy sien, soms is die grot okei as jy net so bietjie wil wegkruip. Jouself onttrek van die wêreld wat lyk hy makeer niks terwyl joune inmekaar stort. Net lê en wees en vra dat Jesus by jou sit. Die probleem is dat party van ons dink ons klim in ‘n grot, maar eintlik is dit ‘n graf. En soms word jou grot, jou graf. Jy grawe hom met jou onvergifnis en bitterheid en die aandring om vas te hou aan jou pyn. Uit jou grot kan jy nog klim, in jou graf bly jy virewig. ‘n Mens kan lewe en dood wees. ‘n Mens kan lewe en leef. Ek wou leef. Ek wil leef. En so het ek elke dag so bietjie langer, en elke maand so bietjie meer uit my grot geklim. Ek spandeer nou meeste van my tyd buite hom. Ek huil en ek voel en ek rou steeds, maar baie minder. Party dae is dit moeilik om nie langs die gat te staan wat in jou binneste gegrawe was nie. Die graf van dit wat was, en dit wat jy gedink het sou wees. Maar jy leer hoe om te laat gaan van wat dood is, sodat dit jou nie doodmaak nie. Ek deel nie my hart en my siel en my seer omdat ek dink my storie is spesiaal of uniek of selfs belangrik nie. Ek deel dit vir JOU. Sodat jy vrou, jy man, jy mens, net ook die grot in plaas van die graf sal kies. In die begin, gaan jy net wil oorleef. Want jy moet. Dis okei. Dis genoeg vir nou. Die ‘moet’ red ons wanneer die ‘wil’ nie daar is nie. So laat jouself lê, maar nou en dan, gaan draai daar buite - al is dit vir nou net om jouself te herinner jy oorleef nog. Maar weet, jy is nie gemaak vir net oorleef nie. Ek belowe, dis in jou. Dit sal weer kom. Die ‘wil’, die wil om dit nie net-net te maak nie, maar om te leef, te hoop, te droom, te lag. Ag asseblief geliefde, hou vas en hou aan, eendag (of miskien amper) gaan jy weer wil. Soek net vir Jesus. Al is jy in jou leë, koue, donker grot, Hy is daar. Hy ken jou en Hy ken seer en Hy ken ‘n grot, want Hy was ook in een. Hy het dood daar ingegaan en lewend daar uitgestap, so saam met Hom, kan jy ook. Hy is saam jou daar binne, en Hy wag vir jou hier buite. So, klim uit kind van God. Klim uit en leef.


M x


 
 
 

Comments


Contact Us

Thank you for contacting us!

© 2021 Soms Skryf Sy. All rights reserved.

bottom of page