Ek kan nie Crossfit nie.
- Oct 31, 2023
- 3 min read

Kykie, hoorie.
Ek haat dit om simpel te voel. Ek haat dit om nie te KAN nie. Ek haat die vernedering en die pyn en ek haat dit as my hart wil en my lyfie is net soos : Nee girl.
So ek oefen so nou en dan. Ek maak asof ek kan Crossfit. Ek kan nie. Ek het ‘n klein besering in my rug wat groot frustrasie veroorsaak. My knieë daag ook nie op vir die partytjie meeste van die tyd nie, maar my hart is daar. Ek WIL lunge, ek KAN net nie. En almal om my kan. Almal vat my verby, en tel swaarder op, en is vinniger en lunge asof hul al lunge van geboorte af.
Ek voel soos 'n mislukking.
Meeste van die tyd staan ek daar in die middel van die vloer, met die harde musiek, en huigende mense, en die klok wat aftel, en die sweet en die vibe en ek wil net huil. Ek soos ‘n 5 jarige dogtertjie my dumbell neergooi en net skree : Ek speel nie meer nie!
Ander tye wil ek net in die hoek gaan staan en so stukkie huil om dit uit te kry sodat ek kan aangaan. Ek doen nie een van daardie dinge nie. Eerstens, want dit sal weird wees. Maar ook omdat ek geleer het hoe sukses lyk (of hoe dit vir my lyk).
Op hierdie stadium van die geveg (dit IS ‘n geveg) is my sukses wanneer ek 'n movement (of hoeveelheid van 'n movement) kan doen wat ek voorheen nie kon nie. Ek kan onthou hoe gelukkig ek was toe ek vir die eerste keer 10 burpees na mekaar kon doen. Sjoe girl, 10 burpees! Soos, op my eie.
Vir die ander, is 10 burpees ‘n tiende van hul warm up. Vir hulle is dit dalk min en klein, maar vir my is dit sukses. ‘n Jaar terug kon nie 3 burpees na mekaar doen sonder om te stop en wonder wie het burpees gemaak en of hy of sy weet hoe baie ek dit haat nie.
'n Jaar terug was sukses vir my om op te daag. Net opdaag. Net arriveer en daar staan en toelaat dat mense my sien. En nie net sien nie, maar sien beweeg. Spring en draf en val en vroetel, en dit onbedoelend, maar baie duidelik maak dat ek glad nie weet wat ek doen nie. Ek moet langs dié mense staan en toelaat dat hul weet dat ek suck met die hele beweeg en raak moeg ding. Dit was moeilik vir my, en is soms steeds.
Miskien oor 'n jaar sal sukses wees dat ek nie 'n workout cap nie. Ek cap 95% van die foundational workouts (so basies maak ek nie eers die maklike workouts klaar nie). En as daardie timer uitloop en ek het nog 3 naar-maak-onthou-hoe-om-asem-te-haal-aktiwiteite oor, dan moet ek weer myself herinner : Dis okei. Doen net wat jy nou kan doen, en doen dit reg. Doen jou KAN, droom oor jou WIL. Jou sukses more is anders as jou sukses vandag.
So okei, hier is dit punt.
Weet en besluit en aanvaar dat jou sukses nie lyk soos ander mense s'n nie (en dat hul dit nie altyd gaan verstaan nie, en ook nie hoef nie).
Sukses is persoonlik, elkeen het sy eie weergawe daarvan, en jy mag besluit hoe dit lyk.
Sukses is seisoenaal, dit verander. Soms is jou sukses die KAN, maar soms is dit net die WIL.
Soms is sukses om jou mindset te verander, soms is dit om ‘n maraton te hardloop, soms is dit net om ‘n dag sonder ‘n garage pie te gaan.
En tussen deur die sukses van gister en vandag en more, aanvaar die simpel voel en die vernedering en die pyn, voel dit en verbeter. Jy doen reeds goed as jy ten minste net iets doen.
Sukses is probeer.
So probeer maar net weer.
M x



Comments