top of page
Search

Ek het nie 'n Ons nie.

  • Feb 14, 2024
  • 4 min read


Valentynsdag.

 

Vandag spog almal met hulle Ons. Hulle haal dit uit en stof dit af, en wys dit trots vir die wêreld, soos ‘n seuntjie met sy gunsteling speelding. Kyk julle, dis my Ons! Oulik nê! Hulle kyk hulle Ons in die oë en herinner hulle net weer : Ek like jou. Jy kan maar bly. Hier is ‘n bederf. Kom ons gaan eet êrens iets.

 

Ek het nie ‘n Ons nie. Dis altyd so bietjie snaaks om nie ‘n Ons op ‘n Ons-dag te hê nie. Veral as jy vir so lank ‘n Ons gehad het, en nou nie meer een het nie. Maar dis okei. Dis baie meer okei as ‘n jaar terug.

 

Ek hou van hierdie lewe, sonder die Ons. Ek hou van die vryheid. Ek kan meeste van die tyd doen wat ek wil, wanneer ek wil en hoe ek wil. Ek hoef nie in te check by iemand oor planne nie. Ek hoef nie te deal met dinge wat my irriteer nie. Ek hoef nie te worry oor hoe ek lyk, of dat ek te veel of te min is nie. Ek hoef nie iemand anders se wasgoed te was, of gevoelens te troos, of poep te ruik nie. Dis net ek, en ek poep nie.

 

En nee, hierdie is nie een van daardie stukke wat jy gaan lees oor hoe inspirerend of bemagtigend dit is om ‘n sterk, single, onafhanklike vrou te wees wat nie ‘n Ons nodig het nie. Ek gaan nie my vuiste in die lug opgooi en skree “Who needs a man?! We’re doing it by ourselves!” nie. Nee. I need a man. I don’t like doing it by myself. Kokkorotte maak nie hulle self dood nie, en vure steek nie hulleself aan nie, en alhoewel ek nou albei daardie dinge kan doen, wil ek nie.

  

Ons gaan nou nie vir mekaar jok nie, ‘n Ons is ‘n nice ding om te hê en soms mis ek dit. Die gemaklikheid daarvan. Die sekuriteit. Die vriendskap. En ja, ook die soene.

 

Daar was een aand wat ek so bietjie gekla het by Jesus (as per usual). Die seer van alleen voel, en aan ander mense se Ons blootgestel te wees, het aan my geknibbel. Daar is oomblikke of gevalle waar die leemte van ‘n Ons bietjie grootter voel as gewoonlik. Ek het dit vir Hom gesê, soos wat ek gewoonlik doen wanneer iets my pla, veral as dit iets is waaraan ek niks kan doen nie, of wat ek nie verstaan nie.


“Ek wil ook ‘n Ons hê, Here.”

Hoekom..?

“Ek wil iemand hê wat my beskerm, iemand wat my ken en weet hoe om my lief te hê. Ek wil iemand van my dag vertel, en saam met hulle bid en avonture hê!”

Jy het so iemand.

“Ek het..?”

Ja.

 

Ja, ek het. En toe sê Hy dit, soos Hy altyd doen. In my hart en gedagtes en met ‘n snaakse sekerheid wat net die stem en liefde van God kan bring.

 

Ek is jou Ons.

Ek sal jou beskerm.

Ek sal jou troos.

Ek sal jou versterk.

Ek sal jou bemoedig.

Ek sal jou rots wees.

Ek sal vir jou voorsien.

Ek het jou kinders lief soos my Eie, want hulle is, Myne. Soos jy Myne is. Soos jy nog altyd Myne was. Ek het nie net gebly nie Monita, Ek het jou kom haal. Ek het vir jou gewag. Ek was nie net lojaal nie, ek was lojaal toe jy nie was nie. Ek het jou gekies toe jy My nie gekies het nie. Ek het na jou verlang toe jy My nie onthou het nie.

My liefde vir jou is real.

My liefde vir jou is hier.

My liefde vir jou is genoeg.

 

Wow, Here. Net oh my word, wow.

 

So, ek het nou nie daardie Ons nie, maar ek het hierdie een. Hierdie perfekte, wonderlike, all-consuming Ons. Dis die spesiaalste Ons, die Ons wat ek eintlik nog altyd gehad het, maar wat ek nou anders het. En nie net IS Hy daardie Ons vir my nie, Hy het vir my ook ander tipe Onse gegee.

 

Ek het ‘n Ons gevind in die verhouding met my dogters. In die rol van mamma-wees en klein meisiekinders leer van glo en baklei en vergewe. Ek het ‘n Ons gevind in nuwe vriendskappe, en nuwe avonture, en verhoudings waarin ek gemaklik is, en myself is, en geliefd is. Ek het ‘n Ons gevind in gemeenskap, en kerk, en die besef dat my lewe nie net vir my is nie.


So vandag sê ek bye vir my idee van Ons, en hello vir Sy idee van Ons.

 

Hello, my Onse.

Hello, al die Onse wat my lewe en hart vul en volmaak.

Hello, al die Onse wat genoeg is totdat my eerste en grootste Ons besluit om weer vir my ‘n Ons te gee wat kokkorotte kan vang en vure kan aansteek, en wie se poep ek nie sal omgee om te ruik nie.

 

M x

 
 
 

Comments


Contact Us

Thank you for contacting us!

© 2021 Soms Skryf Sy. All rights reserved.

bottom of page