Monita, jy is swanger.
- Nov 30, 2023
- 4 min read

30 November 2022.
Ek sit op my bed. Dit is donker in die kamer, behalwe vir ‘n kers of twee wat brand.
Ek is desperaat. Ek wil van God hoor. Ek wil nie meer van my familie hoor of my vriende hoor of selfs van myself hoor nie. Ek wil hoor hoe die God van die heelal vir my self sê ek gaan okei wees.
Ek maak my Bybel oop en my oë toe. My hart is vol woorde, maar hy is te seer om dit na my mond te stuur. Ek is moeg. Ek sê dit nie hardop nie, maar ek vra God vir iets. Net woord. Hier en nou. Ek soek iets asb. Woorde om aan vas te klou. Iets om in te hoop. ‘n Belofte.
Jesaja 7. Ek begin lees.
Twee konings val Jerusalem aan en misluk.
Ek voel ook asof ek aangeval word Here. Help my.
Die koning van Jersualem en sy volk was bang. “Hulle het gebewe soos die bome in die bos bewe in die wind.” (vers 2b).
Ek weet hoe dit voel. Vir dae al bewe my hande van die skok, en my hart van die angs. Ek weet nie wat ek gaan doen nie, ek weet nie hoe ek dit gaan maak nie.
God stuur die profeet Jesaja en sy seun om vir die koning te sê hy moet rustig raak. Die ander twee konings beplan sy ondergang, “maar so sê Ek, die Here jou God: Dit sal nie plaasvind nie, dit sal nie gebeur nie,” (vers 7)
Dis ‘n verligting. Die aanval gaan my nie doodmaak nie, dit gaan my nie oorweldig nie. Ek gaan okei wees. Dankie my God. Dankie dat U my beskerm. Dankie vir U Woord!
Die Here bemoedig die koning van Jerusalem. “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.” (vers 9)
Ek verstaan Here. Ek moet vashou aan U, soos nooit tevore, sodat ek hierdeur kan kom. Ek hoor wat U sê.
Die Here sê vir die koning hy moet Hom vra vir ‘n teken, maar die koning wil nie.
Ek is ook nie altyd gretig om God te vra vir ‘n teken nie. Sy belofte is genoeg.
Die profeet vererg hom so half en skel so bietjie. Hy sê vir die koning hy gaan inelkgeval ‘n teken kry.
Op hierdie stadium vind ek soveel aanklank by hierdie storie, dat dit vir my voel asof die Here direk met my praat. Ek is nou baie opgewonde. Ek weet dat watookal volgende hier staan, watookal die koning se teken is dat hy en sy volk okei gaan wees, gaan ook my teken wees dat ek okei gaan wees.
Ek hou op lees en neem ‘n oomblik. Ek haal diep asem en sê solank vir God dankie.
My oë soek die volgende vers, my teken.
Vers 14.
“Daarom sal die Here self vir julle 'n teken wys. Kyk, die jong vrou verwag 'n baba. Sy sal 'n seun kry en sy sal hom Immanuel noem.”
Monita, jy is swanger.
Ek voel hoe die skrik elektries deur my liggaam hardloop, van my kop tot by my tone. Vir omtrent 2 minute sit ek net daar, met my mond oop en my verstand stil.
Here, ekskuus..? Nee. Neeeee. Wag. Nee. Here, huh..? Nee.
Ek dink terug en vra myself al die vrae wat ‘n vrou gewoonlik haarself vra wanneer sy dink sy is swanger. Ek besef dit kan waar wees. Hierdie kan eintlik waar wees.
Ek is nie paniekerig nie. Omkant gevang..? Ja. Verbaas..? JA. Vir 2 jaar is ek van die pil af. Vir 2 jaar, geen baba. En nou..? Nou?! Baba.
-
30 November 2023
1 Jaar later. Ek het daardie baba so lief.
Ek dink terug aan die vreugde wat oor my gekom het toe die dokter God se woord bevestig, 2 dae nadat Hy vir my gesê het ek is swanger. In daardie oomblik het ek gewonder of ek mal raak, en of dit die vreugde van God is. Daar sit ek, in die begin van ‘n rowwe seisoen, en lag van opgewondenheid oor nog verantwoordelikheid. Ek het geen idee hoe ek alles gaan doen nie, GEEN IDEE NIE, maar ek is BLY. Dis hoe God se vreugde werk.
Daar was profesieë oor haar uitgespreek, deur mense wat net my naam ken en niks anders van my weet nie. “Sy sal vreugde bring en daar sal voorsiening wees vir haar.”
Sy het en daar was.
Sy doen en daar is.
Op die 7de dag van die 7de maand 2023 (2+0+2+3 = 7) word sy gebore. Net soos God om haar vroeër te laat kom sodat die datum 7 / 7 / 23 lees. Dit nadat hy die 7de vers van die 7de hoofstuk in die 23ste boek van die ou testament gebruik het om vir my te sê ek gaan okei wees.
Dit sal nie plaasvind nie, dit sal nie gebeur nie.
Net soos God om vir haar rooi hare te gee nadat ons vir haar ‘n naam kies wat ‘helder’ en ‘sonskyn’ beteken.
Net soos God om mense te stuur om vir ons alles te gee wat ons nodig het, en meer.
Vandag sit ek weer op my bed. Dis weer donker. Hierdie keer is daar ‘n bedlampie wat brand. Die babatjie wat ‘n jaar terug ‘n boontjie binne my was, lê nou hier langs my en snork.
Sy is so mooi. En ons was toe okei, en is okei, en gaan okei wees.
So ek sit hier as ‘n getuienis. Daar is ‘n God. ‘n God wat goed is, wat getrou is, wat geduldig is. ‘n God wat vertroos en genees en by ons is, altyd. Immanuel.
“Daarom sal die Here self vir julle 'n teken wys. Kyk, die jong vrou verwag 'n baba. Sy sal 'n seun kry en sy sal hom Immanuel noem.”
Jesus Christus. Ons ewige hoop.
M x



Comments